KODE VAN BANKPRAKTYK

:: AFRIKAANS ::

 

INHOUD

1.  INLEIDING

2.  Grondbeginsels van ons verhouding met u

3 Openbaarmaking

3.1.   Voorwaardes en bepalings
3.2.   Produkte, dienste en rekeningtransaksies
3.3.   Heffings en gelde

3.4.   Veranderinge in bepalings en voorwaardes

3.5.   Inligting
3.6.   Vertroulikheid en privaatheid
3.7.   Openbaarmaking van inligting aan derde partye

4.  Gedrag

4.1.   Toestaan van krediet
4.2.   Borgstellings
4.3.   Huislenings
4.4.   Verrekening
4.5.   Buitelandse valutadienste
4.6.   Finansiële probleme
4.7.   Rekeningtransaksies
4.7.1   State
4.7.2   Tjeks
4.8.   Kaarte, PINS, wagwoorde, en ander unieke manier van persoonlike identifikasie
4.9.   Verantwoordelikheid vir verliese
4.10.  Sluiting van rekenings
4.11.  Inligting
4.12   Rekeningbestuur
4.13.  Redelike sorg
4.14.  Internet- en telefoonbanktransaksies

5.  Dispuutbeslegtiging

5.1.   Interne dispuutbeslegtiging
5.2.   Ombudsman vir Bankdienste

6.  Hersiening van die Kode

7.  Nuttige omskrywings

 

1.  INLEIDING

Die Kode van Bankpraktyk (‘die Kode’) bied waardevolle beskerming aan ons kliënte.  Dit sal u help om te verstaan hoe ons as lede van The Banking Association moet optree teenoor u, ons persoonlike kliënt en/of kleinsakekliënt in Suid-Afrika.  Ons wil graag ‘n goeie verhouding met u opbou, en ons wil goeie bankpraktyk bevorder deur standaarde van openbaarmaking en gedrag te formaliseer wat ons sal nakom in ons omgang met u.  Ons verbind ons daartoe om die standaarde van billikheid te handhaaf wat in hierdie Kode uiteengesit word.  Verder is ons ook verbind tot die hoogste standaarde van etiese gedrag, soos in ons onderskeie etiese kodes vervat.  Die Kode is van toepassing op ons betrekkinge met klein besighede ten opsigte van die spesifieke produkte en dienste wat ons aan die betrokke entiteit lewer.

Ons aanvaar die jurisdiksie van die Ombudsman vir Bankdienste om as bemiddelaar op te tree, om bindende beslissings te maak op grond van hierdie Kode en die wet, waar van toepassing, en om aanbevelings te maak onder ander omstandighede, met inbegrip van omstandighede wat op billikheid gebaseer is.  ‘n Beslissing wat deur die Ombudsman vir Bankdienste gemaak is, kan in ‘n hofbevel omskep word.  Indien ons weier om aan ‘n aanbeveling van die Ombudsman vir Bankdienste gehoor te gee, kan die Ombudsman vir Bankdienste die aanbeveling publiseer, sowel as die betrokke bank se weiering om daaraan te voldoen.

Geen bepalings van hierdie Kode:
is regtens bindend in enige geregshof nie;

kan gebruik word om die vertolking van die regsverhouding tussen u en u bank te beïnvloed nie; of

laat ‘n handelsgebruik of stilswyende kontrak of enigiets soortgelyks tussen u en u bank ontstaan nie.

Afskrifte van die Kode is by ons en by The Banking Association South Africa beskikbaar.  U kan ook die Kode te siene kry op The Banking Association se webwerf by www.banking.org.za, of op u bank se webwerf.  Die Ombudsman vir Bankdienste se kontakbesonderhede verskyn op The Banking Association se webwerf, en u kan ook verdere inligting kry op die webwerf www.obssa.co.za.

In die Kode beteken “u” die kliënt, en “ons” verwys na die kliënt se bank.  Daar is ‘n afdeling agter in die Kode wat omskrywings bevat van sekere woorde en frases wat in die Kode gebruik word.  Hierdie woorde en frases verskyn in skuinsdruk in die Kode self.

HIERDIE KODE TREE IN WERKING VANAF:  1 Oktober 2004

:: terug na inhoud ::

2.  GRONDBEGINSELS VAN ONS VERHOUDING MET U

Ons, die lede van The Banking Association, onderneem ons sal:

2.1       regverdig en redelik optree in ons omgang met u;

2.2       toesien dat al ons dienste en produkte aan hierdie Kode voldoen, selfs al het hulle hul eie voorwaardes en bepalings;

2.3       toesien dat die prosedures wat deur ons personeel gevolg word die verbintenisse weerspieël wat in hierdie Kode uiteengesit is en dat ons personeel bewus is van die interne prosedures vir die hantering van klagtes;

2.4       inligting oor ons dienste en produkte in eenvoudige taal aan u beskikbaar stel (dit sal in Engels verskaf word, en waar toepaslik in enige van die ander amptelike tale) en u help met enige aspek wat u nie verstaan nie;

2.5       toesien dat alle skriftelike voorwaardes en bepalings regverdig is en u regte en verantwoordelikhede duidelik in eenvoudige taal uiteensit;

2.6       u help om ‘n diens of produk te kies wat reg is vir u behoeftes;

2.7       u help om die basiese finansiële implikasies van ons produkte en dienste te verstaan;

2.8       u help om te verstaan hoe u bankrekening(s) werk;

2.9       betroubare bank- en betalingstelseldienste lewer en redelike sorg dra dat hierdie dienste veilig is;

2.10    ons foute regstel en u vergoed waar dit van toepassing is;

2.11    u vertel hoe ons klagteprosedures werk, en klagtes vinnig hanteer;

2.12    u vertel wanneer u vra, en waar dit op u omstandighede van toepassing is, indien ons ons produkte en dienste op meer as een manier aanbied (byvoorbeeld elektroniese bankdienste).  Ons sal u vertel hoe om meer inligting hieroor te kry;

2.13    moeite doen om u finansiële probleme te verstaan, asook die redes vir agterstallige bedrae op u rekenings, as u ons betyds nader;

2.14    aan alle toepaslike wetgewing, kodes, reëls en toesighoudingsvereistes voldoen, veral dié met betrekking tot die bankwese, versekering, markgedrag en verbruikersbeskerming.  Indien hierdie Kode ‘n verpligting aan ons oplê wat nie in ‘n bepaalde wet vervat word nie, sal ons hierdie Kode nakom, behalwe waar dit tot ‘n oortreding van die wet kan lei;

2.15    met onwrikbare integriteit en billikheid optree om volkome vertroue in ons, individueel, en in ons bedryf te bevorder;

2.16    seker maak dat ons leningskriteria en die produkte en dienste wat ons bied suiwer op handelsbeginsels gebaseer is en daarvolgens toegepas word en nie op enige basis teen u diskrimineer wat nie deur die wet toegelaat word nie, met inagneming van die implikasies van handelsbeginsels.  Ons kan egter sekere spesiale produk- of diensaanbiedings hê wat spesifiek vir lede van ‘n teikenmarkgroep ontwerp is;

2.17    die bankbehoeftes van gestremde kliënte in ag neem en redelike stappe doen sodat hulle beter toegang tot bankdienste en -fasiliteite het;

2.18    u vertel wat ons van u verwag in u verhouding met ons; 

2.19    ‘n afskrif of opsomming van hierdie Kode aan u verskaf wanneer u ‘n kliënt word of daarvoor vra;

2.20    die bestaan van hierdie Kode en ons navolging daarvan duidelik in ons takke vertoon en/of adverteer;

2.21    skriftelike bevestiging aan u gee, waar redelik en toepaslik, van enige verslapping wat ons toestaan of reëling wat ons toelaat ten opsigte van u verskuldigdheid aan ons;

2.22    seker maak dat u geen dokumente teken wat u nog nie volledig voltooi het waar dit vereis word nie.  Wanneer u ons vra om dokumentasie namens u te voltooi, sal ons seker maak dat dit ‘n ware weerspieëling is van die inligting wat u vir ons gegee het; en

2.23    in die algemeen slegs op u skriftelike instruksies reageer nadat ons ons daarvan vergewis het dat u u dentiteit deur middel van u PIN bevestig het (wat u aan niemand moet bekend maak nie), of deur u identiteitsdokument, handtekening of ander unieke manier van persoonlike identifikasie.  Ons sal ander vorms van magtiging slegs in buitengewone omstandighede aanvaar of waar die aard van die proses dit bepaal, byvoorbeeld internet-, telefoon- of OTM-banksake.

:: terug na inhoud ::

3.  OPENBAARMAKING

Ons onderneem om sekere kwessies aan u as ons kliënt (of potensiële kliënt) openbaar te maak.

Wat ons onderneem om aan u openbaar te maak

3.1. Voorwaardes en bepalings

Alle skriftelike voorwaardes en bepalings sal regverdig wees en sal u regte en verantwoordelikhede ten op sigte van ‘n produk of diens duidelik in eenvoudige taal uiteensit.  Ons sal slegs regs- en tegniese taal gebruik wanneer dit nodig is.  Waar regs- en tegniese taal gebruik word, sal ons verduidelik wat ons bedoel.  Indien u nog steeds onseker is nadat u die verduideliking gelees het, kan u ons vra om dit verder aan u te verduidelik.

:: terug na inhoud ::

3.2. Produkte, dienste en rekeningtransaksies

Wanneer u ‘n kliënt word, en op redelike versoek, sal ons die volgende aan u beskikbaar stel:

   duidelike skriftelike inligting wat die sleuteleienskappe verduidelik van ons dienste en produkte waarin u belangstel;

     duidelike en toepaslike inligting oor die verskillende tipes produkte en rekeninge wat by ons beskikbaar is om u te help om ‘n ingeligte keuse te maak wat by u behoeftes pas

      aanbevole veiligheidsmaatreëls en wenke oor ons dienste en produkte waarin u belangstel

      inligting oor hoe u rekening werk, wat insluit:

·        wanneer u fondse kan onttrek nadat ‘n deposito in u rekening inbetaal is en wanneer fondse rente begin verdien;

·      die verskillende maniere om ‘n tjek uit te reik;

·      hoe om ‘n tjek en ander tipes betaling te stop;

·     die verskil tussen bankgewaarborgde tjeks en banktjeks en die implikasies daarvan, waar dit van toepassing is;

·      die uitwerking van onbetaalde tjeks en ander betaalinstrumente op u rekening, wat insluit gevalle waar ons u rekening kan krediteer met die waarde van ‘n tjek waarvoor ons moontlik nog nie self waarde ontvang het nie;

·      spesiale klaring en die gevolg(e) wat dit vir u rekening kan hê;

·      hoe ‘n tjek ‘n verjaarde tjek kan word en die gevolge hiervan;

·      hoe debietorders en stoporders werk, die verskil tussen die twee, en hoe om hulle te stop en/of kanselleer;

·      inligting oor elektroniese bankdienste, waaronder die spesiale vereistes wat ons aan u stel as u elektronies bank;

·      die verskillende funksies van enige kaart(e) wat aan u uitgereik word;

·      wanneer u rekeningbesonderhede aan kredietrisiko-bestuursdienste gegee kan word;

·  enige spesiale prosedures of veiligheidsmaatreëls wat van u verwag word om veiliger bankdienste te verseker.

:: terug na inhoud ::

3.3. Heffings en gelde

Ons sal vir u besonderhede gee oor heffings vir basiese bankdienste – volle besonderhede oor heffings vir enige diens of produk is op versoek beskikbaar.  Ons sal u inlig oor die heffings (en die toepaslike bedrag, waar moontlik) vir ‘n diens of produk voordat of wanneer dit aan u gelewer word, en te enige redelike tyd wanneer u dit versoek terwyl u ‘n kliënt is, waaronder inligting oor die volgende:

      of gelde of heffings onderhandelbaar is of nie;

  veranderinge aan heffings vir basiese bankdienste na redelike voorafgaande kennisgewing deur twee of meer van die volgende metodes:

·        brief/boodskappe op state/ander persoonlike kennisgewing;

·        kennisgewing/biljette in takke;

·        OTM-/elektroniese bankstelsel-boodskappe;

·        media-advertensies;

·        Internetbankdienste;

·        e-posboodskappe;

·        telefoniese aankondigings (deur sms); of

·        aankondigings op ons webwerf.

     enige bykomende heffings en rente wat u moontlik moet betaal op oortrokke rekenings en vastetermyn-produkte wanneer:

·        u rekening sonder voorafgaande reëlings oortrokke raak;

·        u oortrokke limiet oorskry word;

·        u lening agterstallig raak;

·        u besluit om ‘n lening vroeg af te los; of

·        u ‘n vroeë onttrekking of vroeë kansellasie maak.

     die renteheffings van toepassing op u rekening(s), waaronder:

·        wanneer rente van u afgetrek of aan u betaal gaan word;

·        die grondslag waarop rente bereken word; en

·      wanneer verhogings gemaak word aan die rentekoerse wat op u rekening(s) van toepassing is.  Ons sal enige styging in die huisverbandkoers in die openbare media aankondig, sowel as direk aan u.

:: terug na inhoud ::

3.4.Veranderinge in bepalings en voorwaardes

Ons sal u voorsien van:

   redelike kennisgewing van veranderinge aan die bepalings en voorwaardes van enige rekening, produk of diens wat op u van toepassing is, sodat u tyd sal hê om te besluit of u met die produk of diens wil voortgaan; en

   ‘n afskrif van die nuwe bepalings en voorwaardes of ‘n opsomming van die veranderinge by die laaste adres wat u aan ons gegee het, indien ons wesenlike veranderinge daaraan maak.

:: terug na inhoud ::

3.5. Inligting

Ons sal u voorsien van:

     inligting oor u regte tot toegang tot u persoonlike inligting wat deur ons gehou word;

    inligting oor watter identifikasie- en verifikasiedokumente (wat ons kan verifieer) ons nodig het om u identiteit te bewys wanneer u met ons kommunikeer of transaksies by ons uitvoer.  Dit sluit in wanneer u die eerste keer aansoek doen om ‘n rekening oop te maak en tydens ons verhouding met u, wanneer u ‘n lening of ander kredietfasiliteit verkry, of wanneer u ander transaksies doen wat belangrik is vir u sekuriteit en moontlik deur die wet vereis word;

    inligting oor watter kontrolemaatreëls ons kan toepas met kredietrisiko-bestuursdienste en ander betrokke partye;

    redelike voorafgaande kennisgewing van ons voorneme om enige van ons banktakke, afsetplekke of OTM-/elektroniese banksentrums toe te maak; en

    reklame- en promosiemateriaal, wat duidelik, billik, redelik en nie misleidend is nie en aan die toepaslike reklameowerheidriglyne voldoen.

:: terug na inhoud ::

3.6. Vertroulikheid en privaatheid

Ons sal al u inligting as privaat en vertroulik behandel (selfs wanneer u nie meer ‘n kliënt is nie).  Buiten soos in 3.7.1 hieronder uiteengesit, sal ons geen inligting oor u rekeninge of u persoonlike besonderhede aan enigiemand openbaar maak nie, met inbegrip van ander maatskappye in ons groep, buiten in vier buitengewone gevalle wat deur die wet toegelaat word.  Dit is:

    waar ons wetlik verplig is om dit te doen;

    waar dit in die openbare belang is om openbaarmaking te doen;

    waar ons belange openbaarmaking vereis (dit sal nie gebruik word as ‘n rede om inligting oor u of u rekeninge [insluitende u naam en adres] aan enigiemand anders openbaar te maak nie, met inbegrip van ander maatskappye in ons groep vir bemarkingsdoeleindes);

    waar openbaarmaking op u versoek of met u toestemming geskied.  Indien u gebruik maak van elektroniese bankfasiliteite soos telefoonbankdienste, en die telefoonoproepe opgeneem word, kan toestemming tot openbaarmaking moontlik verbaal opgeneem word.

:: terug na inhoud ::

3.7. Openbaarmaking van inligting aan derde partye

3.7.1. Inligting oor u persoonlike skuld en/of die manier waarop u u rekeninge bedryf kan in toepaslike omstandighede wat aan kredietrisiko-bestuursdienste openbaar gemaak word waar:

    u agterstallig geraak het met u betalings of die voorwaardes van ‘n produk of diens verbreek het, en u nie na formele aandrang bevredigende voorstelle aan ons gemaak het vir die terugbetaling van u skuld nie, en u minstens 28 kalenderdae kennisgewing ontvang het van ons voorneme om openbaarmaking te doen; of

    u skriftelike, elektroniese of, in die geval van telefoonbankdienste, verbale toestemming aan ons gegee het; of

    u tjek na die trekker verwys word, in welke geval die inligting op ‘n tjekverifiëringsdiensstelsel geplaas kan word.

Indien die verskuldigde bedrag of die agterstallige bedrag in dispuut is, sal ons ook hierdie feit openbaar maak, maar nie die bedrag wat betrokke is nie.

3.7.2. Ten opsigte van die bemarking van dienste of produkte sal ons, indien u:

    ‘n nuwe kliënt is, u toestemming aan die begin van ons verhouding met u verkry;

    ‘n bestaande kliënt is, u inlig dat u u toestemming kan weerhou of onttrek en hoe om daardie keuse uit te oefen.  Indien u nie u toestemming weerhou nie, sal ons aanvaar dat u instem dat ons voortgaan om die dienste of produkte te bemark.

Met u toestemming kan ons:

    besonderhede van ons dienste en produkte waarin u moontlik sal belangstel onder u aandag bring;

    sekere inligting oor u aan ander filiale in ons groep gee vir bemarkingsdoeleindes;

    u oor ‘n ander maatskappy se dienste of produkte inlig. Indien u positief reageer, sal u moontlik direk deur daardie maatskapy gekontak word.

Ons sal u nie onder druk plaas deur aan te voer dat toegang tot enige van ons dienste en produkte aan u toestemming tot bogenoemde onderhewig is nie.

3.7.3 Ons sal u inlig wanneer ons u telefoongesprekke met ons opneem en wat die redes daarvoor is.

3.7.4. Ons sal enige dokumente met betrekking tot u transaksies of verhouding met ons vir ‘n tydperk van nie minder nie as vyf jaar vanaf die datum van die betrokke transaksie(s) of beëindiging van ons verhouding met u hou.

:: terug na inhoud ::

4.  GEDRAG

Sekere beginsels met betrekking tot ons gedrag as u bank, en u gedrag as ons kliënt, is belangrik gedurende ons verhouding.

Wat u van ons kan verwag

4.1. Toestaan van krediet

4.1.1. Ons sal op verantwoordelike wyse (gebaseer op die inligting wat u aan ons gee) krediet bemark en goedkeur om by u leningsvereistes en -vermoëns te pas en u van geskikte produkte voorsien in ‘n poging om te verseker dat u nie buite u finansiële vermoë belas word nie.  Ons vermoë om dit te doen hang egter af van u nakoming van die verwagtinge wat ons aan u stel met betrekking tot u finansiële sake, soos in 4.11.4 uiteengesit.

4.1.2. Alle lenings is onderhewig aan ‘n beoordeling van u vermoë om dit te bekostig en u bereidwilligheid om dit terug te betaal.  Hierdie beoordeling kan die volgende insluit:

   inagneming van u inkomste en uitgawes, waaronder die betroubaarheid van u inkomste;

   hoe u u finansiële sake in die verlede hanteer het;

 inligting verkry by kredietrisiko-bestuursdienste en verwante dienste en ander toepaslike partye, byvoorbeeld werkgewers, ander uitleners en verhuurders;

  hoe u u vorige en bestaande rekeninge by ons bedryf het;

   inligting wat deur u verskaf is, waaronder verifiëring van u identiteit en die doel van die lening;

   kredietbeoordelingstegnieke, byvoorbeeld kredietpuntetelling;

  u ouderdom in verhouding tot die leningsfasiliteit waarvoor u vra;

   enige sekerheid of kollateraal wat gegee word; of

   u staat van bates en laste.

4.1.3. Indien ons u aansoek vir krediet afkeur, sal ons u laat weet wat die redes daarvoor is, wat die volgende kan insluit:

   die algehele kredietpuntetelling;

     inligting wat by kredietrisiko-bestuursdienste gekry is;

   te veel skuld; of

    n spesifieke beleid van die bank.

Met outomatiese kredietpuntetelling-stelsels is hierdie redes nie altyd duidelik nie, en dan sal slegs algemene redes gegee word.

:: terug na inhoud ::

4.2. Borgstelling

Indien u wil hê ons moet ‘n borgstelling of ander sekerheid van iemand aanvaar vir u leningskuld sal ons u en die borg of die borg se regsadviseur laat weet dat die borg regtens daarop geregtig is om u vertroulike finansiële inligting te sien.

Ons sal:

  die borg aanmoedig om onafhanklike regsadvies te kry om seker te maak hulle verstaan die verpligting en die moontlike gevolge van so ‘n besluit. Al die dokumente wat die borg moet teken, sal hierdie aanbeveling as ‘n duidelike en opsigtelike kennisgewing bevat;

   die borg inlig en waarsku dat hy of sy in u plek of saam met u aanspreeklik kan word deur die verlening van die borgstelling of ander sekerheid;

   die borg inlig of dit ‘n beperkte (en die maksimum waarde) of onbeperkte borgstelling is en hom of haar oor die implikasies van ‘n onbeperkte borgstelling vertel; en

    die partye inlig oor die implikasies van borgstelling wat betref die tydperke waarvoor hulle geldig is, die potensiële bedrag/bedrae van verskuldigdheid, die aard van die skuld wat gedek word en die kansellasie-/beëindigingsproses.

:: terug na inhoud ::

4.3. Huislenings

4.3.1. Wanneer u ‘n eiendom met ‘n huislening koop, sal dit heel moontlik u belangrikste finansiële verpligting wees.  Daarom sal ons:

  wanneer u vir ‘n huislening aansoek doen, en op redelike versoek, aan u verduidelik hoe u lening werk en terugbetaal moet word, insluitende al die heffings en koste, die voordele van paaiementversnelling, en die bykomende rente en koste wat betaalbaar word indien u rekening agterstallig raak;

   u help om die wyer verantwoordelikhede en regte te verstaan wat u as eienaar van eiendom sal hê, en u met ‘n gedetailleerde bekostigbaarheidsbeoordeling help indien u dit nodig het. Dit kan insluit om u in te lig oor die terugbetalings op u lening en bykomende koste wat op huiseienaarskap van toepassing is, soos diensgelde en belasting;

   verduidelik wat die potensiële uitwerking van veranderbare teenoor vaste rentekoerse is sodat u ‘n ingeligte besluit hieroor kan neem;

 aan u verduidelik dat u moontlik u eiendom kan verloor indien u   nie bybly met u leningterugbetalings nie; en

   die stappe verduidelik wat regtens vereis word indien ons u eiendom moet terugneem omdat u nie u terugbetalingsverpligtinge nagekom het nie of indien u nie enige ander bepalings of voorwaardes van die kontrak nakom nie.

4.3.2. As finansiers het ons nie die vaardighede of hulpbronne om die gehalte van die eiendom wat u bou of koop te monitor of beheer nie. Ons sal u duidelik inlig dat ons waardering bloot is om ons in staat te stel om die waarde van die sekerheid vir ons te beoordeel. Dit is nie bedoel om ‘n evaluasie van die eiendom se huidige of toekomstige markwaarde te wees nie, en dit hoef ook nie dieselfde as die koopprys te wees nie. Ons inspekteer nie noodwendig die eiendom nie en aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir die eiendom se strukturele of ander kondisie nie, selfs al is die lening ‘n ontwikkelings- of boulening.

4.3.3. Ons sal aan u verduidelik dat u versigtig moet wees wanneer u dokumente teken vir betaling ten opsigte van bouvordering.

4.3.4. Ons sal seker maak dat u deeglik ingelig is oor al die verskillende tipes versekering en u inlig of die bank vereis dat versekering uitgeneem moet word, wie se verantwoordelikheid dit is om die versekering te reël en watter versekeringsdekking beskikbaar is.

4.3.5. Die kwessie van die gehalte van ‘n huis is die verantwoordelikheid van die koper (of bouer of ontwikkelaar) en uself as koper. Huise jonger as vyf jaar kan ook ‘n beperkte waarborg van die Nasionale Huisbouersregistrasieraad dra.  U moet uself so goed moontlik daarvan vergewis dat u ‘n goeie eiendom koop en, indien nodig, by die regte kundiges sekerheid kry oor die strukturele gehalte van die eiendom, nakoming van die plaaslike owerheid se vereistes en die vervangingskoste van die geboue en verbeterings.

4.3.6. Indien u dit nodig het, sal ons u voorsien van:

   die beraamde sekerheidswaarde van die eiendom; en

die minimum vervangingskoste wat ons vir versekeringsdoeleindes op die geboue en verbeterings plaas.

4.3.7. Wanneer u huisverband ten volle terugbetaal is, sal ons u laat weet hoe jaarlikse versekeringspremies en ander heffings en administratiewe sake in die toekoms hanteer moet word.

:: terug na inhoud ::

4.4. Verrekening

4.4.1. Ons sal ons nie op verrekening verlaat tensy ons regtens toegelaat word om dit te doen nie. Ons sal u binne ‘n redelike tydperk laat weet indien ons verrekening ten opsigte van enige van u rekenings gedoen het.  U sal betyds state ontvang (indien state gewoonlik op die betrokke rekening gestuur word) wat die verrekeningsposisie sal wys.

4.4.2. Voordat ons u debiet- en kredietsaldo’s verreken, kan ons ook besluit om enige van u fondse te blokkeer totdat ons met u kon praat oor enige bedrag wat u ons skuld.

:: terug na inhoud ::

4.5. Buitelandse valutadienste

4.5.1. Ons sal die diens, besonderhede van die wisselkoers en die heffing vir enige buitelandse valutatransaksies wat u dalk wil aangaan aan u verduidelik. As dit nie moontlik is om spesifieke besonderhede oor heffings vir u te gee nie, sal ons aan u verduidelik op watter grondslag dit uitgewerk word.

4.5.2. Indien u geld na die buiteland wil oorplaas, sal ons u inlig hoe dit gedoen kan word, en watter dokumentasie die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en/of die Suid-Afrikaanse Reserwebank dalk gaan nodig hê.  Ons sal vir u minstens die volgende inligting gee:

    ‘n beskrywing van die dienste en hoe om dit te gebruik; en

  ‘n aanduiding daarvan of die geld wat u na die buiteland gestuur het, beskikbaar behoort te wees vir die ontvanger en enige rede vir potensiële oponthoude.

4.5.3. Ons sal vir u inligting gee oor enige kommissie of heffings wat u sal moet betaal, insluitende inligting waar ‘n buitelandse bank se kostes moontlik ook deur die ontvanger of deur u betaal sal moet word.

:: terug na inhoud ::

4.6. Finansiële probleme

4.6.1. Indien u finansiële probleme ervaar, moet u ons betyds laat weet en veral so gou moontlik reageer wanneer ons met u kommunikeer.  Hoe gouer ons die probleme bespreek, hoe makliker sal dit vir beide van ons wees om ‘n oplossing te kry.  Hoe meer u ons oor u volle finansiële omstandighede kan vertel, hoe beter sal ons u kan help.

4.6.2. Indien u rekening agterstallig raak, sal ons eerste stap wees om u te kontak om dit te bespreek.  Daarom is dit van die grootste belang dat u ons te alle tye laat weet as daar enige veranderinge aan u adres en kontakbesonderhede is.

Met u samewerking, wat insluit dat u ons betyds laat weet as u probleme het, sal ons redelike stappe doen om ‘n plan saam met u te maak om u finansiële probleme op te los wat in u belang sowel as ons s’n is.

:: terug na inhoud ::

4.7. Rekeningtransaksies

4.7.1. State:

Ons beveel aan dat u u state of spaarrekeningboekie gereeld nagaan.  Indien daar ‘n inskrywing op u staat of in u spaarrekeningboekie is wat verkeerd lyk, moet u ons so gou moontlik sê sodat ons ondersoek kan instel.

  Om u te help om u rekening te bestuur en inskrywings daarop te verifieer, sal ons gereelde rekeningstate aan u voorsien.  Dit kan maandeliks, kwartaalliks of minstens jaarliks wees, tensy dit nie vir die tipe rekening toepaslik is nie.  U kan vra om meer gereeld rekeningstate te kry as wat gewoonlik op u tipe rekening beskikbaar is.

  Staatbesonderhede kan ook op versoek beskikbaar wees deur elektroniese bankterminale of ander maniere van elektroniese of telefoonbankdienste indien u vir sulke fasiliteite by ons geregistreer het.

  Bykomende gelde kan gehef word indien u state vra bo en behalwe dié wat normaalweg verskaf word.  U moet u gebruik van state volgens u behoeftes bestuur, met inagneming van die koste wat daaraan verbonde is om hulle te verskaf.

:: terug na inhoud ::

4.7.2. Tjeks:

U kan met ons reël om oorspronklike tjeks wat uit u rekening betaal is, of afskrifte daarvan, vir die tydperk te hou wat deur wet voorgeskryf word.  Indien ons dit doen, kan ons gelde hef om afskrifte daarvan aan u te voorsien.

   Indien u binne ‘n redelike tydperk nadat die inskrywing gemaak is ‘n tjek bevraagteken wat uit u rekening betaal is, sal ons die tjek, of ‘n afskrif (waar die tjek reeds aan u teruggestuur is), aan u gee as bewys van die instruksie om te betaal.  Ons kan gelde hef daarvoor.

  As ons nodig het om u te laat weet dat ons een van u tjeks of ander items as onbetaald teruggestuur het, sal ons dit binne ‘n redelike tydperk en op die mees koste-effektiewe manier doen, met die versekering dat ons ons bes doen om vertroulikheid en privaatheid te handhaaf.

   Wanneer ons agterkom dat ‘n tjek wat u gedeponeer het as onbetaald teruggestuur is, sal ons u binne ‘n redelike tydperk en op die mees koste-effektiewe manier daarvan laat weet.

  Wanneer u ‘n tjek deponeer, moet u onthou dat ons gewoonlik namens u as invorderingsagent optree.  Ons kan na goeddunke die waarde van hierdie deposito op u rekening krediteer en vasstel of daardie krediet gebruik kan word voordat ons self waarde vir die tjek kry.  As ons om enige rede op ons beurt nie waarde ontvang nie, sal ons die krediet en enige gepaardgaande rente omswaai.

   Alle banke (plaaslik sowel as internasionaal) werk op die beginsel dat, indien ‘n mens ‘n tjek aan hulle oorhandig vir invordering, hulle as jou agent optree om die fondse van die tjekuitreiker se bank in te vorder.  As sodanig, en in die lig van die kompleksiteite van ‘n tjekklaringstelsel, kan hulle nie verantwoordelikheid aanvaar vir die verlies of diefstal van die tjek in die stelsel nie.  Om daardie rede, as ‘n tjek of ander betalingsinstrument wat u vir invordering gedeponeer het, verlore of beskadig raak, sal u die uitreiker van die tjek of instrument moet nader om betaling te stop (as dit nog nie uitbetaal is nie) en ‘n tjek of instrument uit te reik wat dit vervang.  As u vir ons die besonderhede gee van die trekker van die ‘verlore’ tjek, en u ons skriftelik magtiging gee om namens u op te tree, sal ons redelike stappe doen om ‘n vervangingstjek te kry.  Ons kan u moontlik vra om vir ons ‘n vrywaring te gee in geval die oorspronklike tjek reeds aan u betaal is.

   Ons sal u inlig oor die verskillende maniere om ‘n tjek uit te reik.

:: terug na inhoud ::

4.8. Kaarte, PINS, wagwoorde, en ander unieke manier van persoonlike identifikasie

   Ons kan ‘n kaart aan u uitreik, of een vervang wat reeds uitgereik is, en gelde hiervoor hef.

   U PIN (Persoonlike Identifikasienommer), wagwoord en ander unieke maniere van identifikasie is streng vertroulik.  Waar ‘n bank dit verskaf, sal dit slegs aan u uitgereik word, afsonderlik van u kaart, waar dit van toepassing is.  U moet nooit u PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie aan enigiemand bekend maak nie, en veral nie aan ‘n werknemer van die bank nie.

   Ons sal vir u sê of u u eie PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie kan kies.  Ons sal u aanmoedig om geboortedatums en eenvoudige opvolgnommers soos 1111, 12345 ensovoorts te vermy.

   Ons sal u inlig oor die prosedures om u PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie te verander wanneer dit nodig word.

    Ons sal u in state, by OTMs of op ander maniere laat weet watter kontakbesonderhede u moet gebruik om verlore of gesteelde kaarte of tjekboeke aan te meld.

:: terug na inhoud ::

4.9. Verantwoordelikheid vir verliese

4.9.1. Nadat u ons ingelig het dat u tjekboek, spaarrekeningboekie, kaart of elektroniese beursie verlore geraak het of gesteel is of dat iemand anders u PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie ken, sal ons onmiddellik stappe doen om te keer dat dit gebruik kan word om toegang tot u rekening te kry.

4.9.2. Onderhewig aan bepaling 4.9.3 en 4.9.4 sal ons die bedrag van enige transaksie saam met enige rente en heffings verbonde aan die betwiste transaksie aan u terugbetaal:

   waar u nie u kaart ontvang het nie en dit deur iemand anders misbruik is;

  vir alle transaksies wat nie deur u gemagtig of uitgevoer is nie nadat u ons ingelig het (en ons vir u ‘n verwysingsnommer gegee het) oor die inligting wat in 4.9.1 gelys word (behalwe “e-kontant”-transaksies wat ons nie kan oudit nie).

  as bykomende geld vanaf u rekening na u elektroniese beursie oorgedra is nadat u ons van die verlies of diefstal daarvan ingelig het (en ons vir u ‘n verwysingsnommer gegee het) en u ons laat weet het dat iemand anders u PIN, wagwoord of unieke manier van persoonlike identifikasie ken; of

  waar stelselfoute voorgekom het by OTMs of verwante stelsels, wat nie terwyl u dit gebruik het ooglopend was of ‘n waarskuwingsboodskap of –kennisgewing bevat het nie.

4.9.3. Indien u op bedrieglike wyse optree, sal u vir alle verliese aanspreeklik wees.  Indien u nalatig of sonder redelike sorg optree en dit verliese veroorsaak of daartoe bydra, kan u aanspreeklik gehou word.  Dit kan ook geld as u nie die veiligheidsmaatreëls volg wat in bepaling 4.11, 4.13 en 4.14 uiteengesit is nie.

4.9.4. Waar ‘n kredietkaarttransaksie betwis word, aanvaar ons die las om bedrog of nalatigheid te bewys of dat u u kaart ontvang het.  In sulke gevalle verwag ons dat u met ons en met die polisie moet saamwerk in enige ondersoek.

:: terug na inhoud ::

4.10. Sluiting van rekenings

4.10.1. Ons sal nie u rekening sluit sonder om redelike voorafgaande kennisgewing aan u te gee by die laaste adres wat u vir ons gegee het nie.

4.10.2. Ons behou egter die reg om ons belange na goeddunke te beskerm, wat kan insluit om u rekening summier te sluit:

   indien ons regtens verplig is om dit te doen;

  indien u nie u rekening vir ‘n beduidende tydperk gebruik het nie; of

 indien ons rede het om te glo dat u rekening vir bedrieglike doeleindes gebruik word.

Wat ons van u verwag

Daar is sekere beginsels waaraan u as ons kliënt in ons verhouding moet gehoor gee.

:: terug na inhoud ::

4.11. Inligting

4.11.1. Dit is noodsaaklik dat u ons van enige veranderinge aan u persoonlike besonderhede of finansiële situasie moet laat weet.

4.11.2. Dit is van kritieke belang dat u ons so gou moontlik moet laat weet indien u vermoed of ontdek dat:

   u tjekboek, spaarrekeningboekie, kaarte en/of elektroniese beursie verlore geraak het of gesteel is;

  iemand anders u PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie ken; of

 daar transaksies op u rekenings is wat u nie gemagtig het nie.

4.11.3. Wanneer u ‘n verlore of gesteelde tjekboek, spaarrekeningboekie, kaart of elektroniese beursie rapporteer, maak asseblief seker dat ons vir u ‘n kode of ander verwysingsnommer gee om te bevestig dat u dit gerapporteer het.  Maak asseblief seker dat u hierdie nommer vir toekomstige verwysing bêre, aangesien dit u bewys is dat u die verlies of diefstal aangemeld het.

4.11.4. U is verplig om ons in te lig en op die hoogte te hou van al u lenings, ander finansiële verpligtinge, inkomste en veranderinge hieraan wanneer ons ons verhouding met u hersien of bespreek en om te alle tye verantwoordelik op te tree in al u finansiële sake.  Dit sal ons in staat stel om aan ons verpligting in bepaling 4.1.1 te voldoen.

:: terug na inhoud ::

4.12. Rekeningbestuur

4.12.1. U moet seker maak dat u u bankprodukte behoorlik bestuur met inagneming van u persoonlike finansiële behoeftes en omstandighede.  U moet uself vergewis van die geleenthede vir besparings en beleggings in die finansiële mark.

4.12.2. Indien u na die belastingimplikasies wil kyk van die produk of rekening wat u gekies het, moet u onafhanklike advies van ‘n toepaslike konsultant kry wat gekwalifiseer is om dit aan u te gee.

:: terug na inhoud ::

4.13. Redelike sorg

4.13.1. Dit is noodsaaklik om u tjekboek, spaarrekeningboekie, kaarte, elektroniese beursie, PINs, wagwoorde en ander unieke manier van persoonlike identifikasie op te pas om bedrog te help voorkom en u rekeninge te beskerm.  Maak altyd seker dat u:

   nie u tjekboek of u PIN en kaarte saam bêre nie;

  nie enigiemand anders toelaat om u kaart, PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie te gebruik nie;

  altyd redelike stappe doen om u kaart, PIN, wagwoord en ander unieke manier van persoonlike identifikasie te alle tye geheim en veilig te hou; moet nooit u PIN of wagwoord aan enigiemand bekend maak nie, met inbegrip van familie, vriende of enige bankwerknemer wat aanbied om u te help;

  nooit u PIN, wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie neerskryf of opteken nie.  Indien u dit moet neerskryf, maak seker dat niemand anders toegang daartoe het nie en dat dit verbloem is.  Moet byvoorbeeld nooit u PIN neerskryf of opteken met die syfers in die regte volgorde nie;

  op u hoede is vir die risiko van straatrowers en kaartomruiling wanneer u OTMs of ander elektroniese banktoestelle gebruik;

 nie OTMs of verwante stelsels gebruik waarmee daar duidelik gepeuter is of wat waarskuwingsboodskappe bevat nie;

   nie PINs gebruik wat maklik is om te raai nie, soos 1111 of 12345 of u geboortedatum ensovoorts; en

  versigtig is wanneer u u kredietkaart gebruik.

4.13.2. Ons verwag dat u alle voorvalle van gesteelde tjekboeke, spaarrekeningboekies of kaarte, sowel as die bedrieglike gebruik van kaarte of ander vermeende bedrieglike transaksies by die polisie moet rapporteer sodat dit ondersoek kan word.

4.13.3. U moet u elektroniese beursie soos kontant in ‘n beursie behandel.  U kan enige geld verloor wat in die “e-kontant”-gedeelte van die elektroniese beursie oor is op die tydstip wanneer dit verlore raak of gesteel word, net soos wanneer u u beursie verloor.

4.13.4. U kan aan misdaad blootgestel wees wanneer u sekere OTMs gebruik.  Ons sal redelike voorsorgmaatreëls tref om misdaad by daardie OTMs tot die minimum te beperk.  U het ook ‘n verantwoordelikheid om dieselfde te doen.  U moet daarom gehoor gee aan enige waarskuwingskennisgewings by OTMs om uself teen misdaad by OTMs te beskerm.  Wees veral versigtig vir enigiemand wat naby u kom of u aandag probeer aftrek terwyl u ‘n OTM gebruik.

:: terug na inhoud ::

4.14. Internet- en telefoonbanktransaksies

Internet- en telefoonbanktransaksies maak sekere bankdienste en transaksies meer toeganklik.  Soos met al ons produkte en dienste is daar egter sekere basiese voorsorgmaatreëls wat u moet tref om uself teen bedrieglike transaksies te beskerm.  Maak seker dat u uself hiermee vertroud maak op ons webwerf of ons internetbankportaal, of by ons telefoonbankdepartement.

   Gaan u bankstate gereeld na en rekonsilieer u rekeninge.

  Moet onder geen omstandighede u geheime toegangskode/PIN/wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie aan enigiemand bekend maak nie, en veral nie aan een van ons personeellede nie, aangesien dit gebruik kan word om toegang tot u elektroniese bankfasiliteit te verkry.

Gaan die webwerf-sekuriteitsertifikaat vir die internet-bankwebwerf elke keer na voordat u banksake doen.

 Maak seker dat ‘n tydelike wagwoord verander word na ‘n wagwoord van u keuse wat slegs u ken.

As u agterkom dat enigiemand u geheime kode/PIN/wagwoord of ander unieke manier van persoonlike identifikasie gesien het, verander dit onmiddellik.

  Die sekuriteit van u persoonlike rekenaar is u verantwoordelikheid.

  Maak seker dat u die bepalings en voorwaardes van u bank se webwerf en die produkvoorwaardes en –bepalings op die webwerf gelees het en daarmee vertroud is.

  Sleutel syfers akkuraat in wanneer u banksake doen, veral oor die telefoon.

  Maak seker dat u die regte rekening of begunstigde spesifiseer wanneer u betalings doen.  Ons kan nie duplikaatbetalings of verkeerde betalings wat u aan ander rekenings gemaak het sonder die spesifieke toestemming van die rekeninghouers omswaai nie.

  Moenie die blaaifasiliteit (“browser facility”) gebruik om u wagwoord te stoor sodat u dit nie elke keer hoef in te tik wanneer u oor die internet banksake doen nie.

Maak seker dat daar voldoende anti-virus- en sekuriteitprogrammatuur geïnstalleer en geaktiveer is op die rekenaar wat u vir u internetbanksake gebruik.

:: terug na inhoud ::

5.  DISPUUTBESLEGTIGING

5.1. Interne dispuutbeslegtiging

Dit is belangrik dat u dispute met ons op die doeltreffendste manier opgelos moet word.

5.1.1. Ons het interne prosedures wat voldoen aan die standaarde wat The Banking Association South Africa vasgestel het sodat klagtes regverdig en vinnig afgehandel kan word.  Dit sluit in dat ‘n vasgestelde tyd bepaal moet word waarbinne ons aanvanklik op u klagte moet reageer.  Ons sal aandui hoe lank dit kan neem om meer volledig te reageer.  Ons sal op u versoek vir u inligting oor hierdie prosedures gee.

5.1.2. Indien u ‘n klagte wil indien, sal ons u inlig hoe om dit te doen en wat om te doen indien u nie tevrede is met die uitkoms nie.  Ons tak-, kliëntesorg- of inbelsentrumpersoneel sal u met enige navrae help.  U kan moontlik ook ons webwerf vir hierdie doel gebruik.

Dit is belangrik dat u ons eers moet nader en vir ons die geleentheid moet gee om u dispuut op te los voordat u ‘n formele klag lê.

:: terug na inhoud ::

5.2. Ombudsman vir Bankdienste

Indien ons nie u dispuut kan oplos nie, of indien u nie tevrede is met die uitkoms van ons dispuuthanteringsproses nie, kan u gerus van die Ombudsman vir Bankdienste se dienste gebruik maak.  Ons sal ook, waar dit van toepassing is, vir u inligting oor ander Ombudsman kantore gee wat moontlik jurisduksie oor u klagte het

5.2.1. ‘n Onafhanklike Ombudsman vir Bankdienstekantoor is geskep.  Die Ombudsman vir Bankdienste is kosteloos aan u beskikbaar om enige klag te oorweeg wat ons nie saam met u kon oplos nie.  Die Ombudsman vir Bankdienste is daarop geregtig om as bemiddelaar op te tree, ‘n beslissing te maak op grond van hierdie Kode of van die wet waar die wet redelike sekerheid verleen, of ‘n aanbeveling te maak in ander omstandighede, waaronder dié gegrond op regverdigheid.  Indien ons ‘n aanbeveling van die Ombudsman vir Bankdienste weier, kan die Ombudsman na goeddunke die feit publiseer dat ‘n aanbeveling gemaak is en dat ons geweier het om dit te aanvaar.  ‘n Beslissing wat deur die Ombudsman vir Bankdienste gemaak is, kan in ‘n hofbevel omskep word.

5.2.2. Alle banke wat lede van The Banking Association South Africa is, is outomaties aan die jurisduksie van die Ombudsman vir Bankdienste onderhewig.  Ons sal die Ombudsman vir Bankdienste se brosjure, adres, en telefoon- en faksnommer aan u gee, en ons sal seker maak dat die Ombudsman vir Bankdienste se kontakbesonderhede duidelik by ons takke vertoon word.  Indien ons nie daarin slaag om u dispuut met ons op te los nie, of op u versoek, kan ons u voorsien van die dokumentasie wat nodig is om ‘n klag by die Ombudsman vir Bankdienste se Kantoor in te dien.

Die Kantoor van die Ombudsman vir Bankdienste se huidige besonderhede is:

Die Ombudsman vir Bankdienste

Posbus 5728,

Johannesburg,

2000

Telefoonnommer:

0860 800 900, (011) 838 0035

Faksnommer:

(011) 838 0043

Webwerf: www.obssa.co.za

E-pos: info@obssa.co.za

Wat beleggings- en depositoverwante sake betref, kan u na die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangersdienste, Wet Nr 37 van 2002 (FAIS) en die FAIS-kodes kyk of u klagte na die FAIS-Ombudsman vir Bankdienste verwys.

Die FAIS-Ombudsman se huidige kontakbesonderhede is:

Die FAIS-Ombudsman

Posbus 74571,

Lynwoodrif,

0040

Telefoonnommer:

012 470 9080

Faksnommer:

012 348 3447

E-pos: mpho@faisombud.co.za

:: terug na inhoud ::

6.  HERSIENING VAN DIE KODE

The Banking Association South Africa sal hierdie Kode gereeld monitor en hersien.  U kan klagtes en voorstelle oor die bepalings en algemene werking van die Kode skriftelik aan The Banking Association South Africa rig.

The Banking Association South Africa se huidige kontakbesonderhede is:

The Banking Association

Posbus 61674

Marshalltown

2107

 

Telefoonnommer:

(011) 645 6700

Faksnommer:

(011) 645 6896

Webwerf: www.banking.org.za

E-pos: webmaster@banking.org.za

:: terug na inhoud ::

7.  NUTTIGE OMSKRYWINGS

Hierdie omskrywings verduidelik die betekenis van party van die woorde en bepalings wat in die Kode gebruik word.  Dit is nie presiese, regs- of tegniese omskrywings nie.

7.1 OTM (Outomatiese Tellermasjien):

‘n Kontantmasjien of vrystaande elektroniese banktoestel wat kontant uitgee, wat ook ander inligting of dienste kan verskaf aan kliënte wat ‘n kaart en ‘n PIN, wagwoord of ander manier van unieke identifikasie het.

7.2 Bank:

Sluit volfiliale van die Bank in waar hulle bankdienste verskaf.

7.3 Basiese bankdiens:

Die oopmaak, instandhouding en bedryf van rekenings vir die transmissie van geld deur middel van tjeks, ander betalingsinstrumente, spaarrekenings, lopende rekenings, en daggeld-, kennis- en vaste deposito’s.

7.4 Kaarte:

‘n Algemene term vir enige plastiekkaartjie wat gebruik word om vir goedere en dienste te betaal en kontant te trek.  Vir die doeleindes van hierdie Kode sluit dit elektroniese beursies uit.

7.5 Kredietrisiko-bestuursdienste:

Organisasies wat inligting bewaar wat van belang is vir uitleners, byvoorbeeld rakende kredietrisiko, bedrog, identiteit en adres- of kredietterugbetalingsprofiel.  Banke kan hulle raadpleeg om met verskeie besluite te help, byvoorbeeld of hulle ‘n rekening moet oopmaak of nie en of hulle lenings moet toestaan of krediet moet verleen.  Banke kan inligting aan hierdie diensverskaffers gee of by hulle versoek.

7.6 Kredietpuntetelling:

‘n Stelsel wat banke gebruik om hulle te help om te besluit of hulle krediet aan ‘n verbruiker moet toestaan.  Kredietpuntetellings gebruik statistiese tegnieke om die waarskynlikheid te meet dat ‘n aansoek om krediet (‘n lening) ‘n goeie kredietrisiko sal wees.

7.7 Debietorder:

‘n Ooreenkoms tussen u en ‘n maatskappy of ‘n derde party waarin u die maatskappy of derde party magtig om geld uit u bankrekening te neem vir dienste wat daardie entiteit aan u verskaf het.  Debietorders kan vir vaste of wisselende bedrae wees.

7.8 Elektroniese beursies:

Enige kaart of funksie van ‘n kaart wat werklike waarde in die vorm van elektroniese geld bevat waarvoor iemand vooruit betaal het, waarvan party met verdere fondse herlaai kan word en wat vir ‘n reeks doeleindes gebruik kan word.  Party beursies kan ook ‘n “e-kontant”-fasiliteit hê vir transaksies van geringe waarde, wat nie in ‘n ouditspoor opgeteken word nie.

7.9 Finansiële probleme:

Enige omstandighede wat ‘n nadelige uitwerking kan hê op ‘n kliënt se finansiële vermoë om kontraktuele verpligtinge na te kom.

7.10 Groep:

‘n Groep beteken ‘n houermaatskappy en sy filiale soos in die Maatskappywet 61 van 1973 omskryf.

7.11 Wagwoord:

‘n Woord of toegangskode wat ‘n kliënt kies om hom of haar in staat te stel om toegang te verkry tot ‘n telefoon- of tuisbankdiens en wat ook vir identifikasie gebruik word.  ‘n Tydelike wagwoord kan ook by geleentheid aan ‘n kliënt verskaf word, wat dan deur die kliënt verander moet word na ‘n wagwoord wat net hulle ken.  Tydelike wagwoorde kan minder veilig as ander wagwoorde wees, en die bank kan versuim om hierdie tydelike wagwoord onmiddellik te verander as nalatigheid deur die kliënt beskou.

7.12 Persoonlike kliënt:

‘n Natuurlike persoon, ongeag of hy of sy ‘n besigheid bedryf of nie, wat ‘n rekening bedryf of wat ander dienste van ‘n bank ontvang.

7.13 PIN (Persoonlike Identifikasienommer):

‘n Nommer wat die bank aan ‘n kaarthouer verskaf of wat deur ‘n kaarthouer/kliënt gekies word, op ‘n streng vertroulike grondslag.  Die gebruik van hierdie nommer deur die kliënt sal die kliënt in staat stel om kontant te trek en ander dienste te gebruik by ‘n OTM of verkoopspunttoestel en kan op talle ander leweringskanale as ‘n verifikasiemeganisme gebruik word.

7.14 Sekerheidstelling/kollateraal:

Woorde wat gebruik word om waardevolle items te beskryf soos ‘n huisverband wat op ‘n eiendom geregistreer is, aandelesertifikate, lewenspolisse, ensovoorts wat bates verteenwoordig wat as ondersteuning gebruik word vir ‘n lening of ander kredietfasiliteite.  Byvoorbeeld, onder ‘n gesekureerde lening het die uitlener die reg om die sekerheidstelling te verkoop indien die lening nie terugbetaal word nie.

7.15 Verrekening:

Wanneer beskikbare fondse in een rekening van ‘n rekeninghouer deur die bank gebruik word om skuld of deel van ‘n bedrag skuld in ‘n ander rekening van dieselfde rekeninghouer te vereffen.

7.16 Klein besigheid:

‘n Assosiasie van natuurlike of regspersone wat binne of buite die Republiek van Suid-Afrika geïnkorporeer is, wat ‘n regspersoonlikheid het of ‘n soortgelyke status geniet ingevolge waarvan hy kontraktuele verhoudings en regshandelinge in sy eie naam kan aangaan en wie se omset vir die vorige boekjaar minder as R5 miljoen was.

7.17 Verjaarde tjek:

‘n Tjek wat nie uitbetaal is nie omdat die datum daarop te oud is.  ‘n Voorbeeld hiervan is ‘n tjek wat vir betaling aangebied is ses maande na die datum wat op die tjek verskyn.  Verskillende tydperke kan van toepassing wees en kliënte moet dit met hul banke kontroleer.

7.18 Stoporder:

‘n Instruksie wat aan u bank gegee word om teen ‘n vaste bedrag op ‘n gereelde basis fondse aan ‘n genomineerde derde party te betaal.  Die bank tree op u instruksies op en die derde party verkry nie magtiging om u rekening te debiteer, soos in die geval van ‘n debietorder nie.

7.19 Borgstelling:

‘n Onderneming gegee deur ‘n persoon wat die borg genoem word, om ‘n ander persoon (bekend as die hoofskuldenaar) se skuld te betaal indien daardie persoon versuim om dit te betaal.

7.20 Unieke manier van persoonlike identifikasie:

‘n Versameling feite en inligting van ‘n private en persoonlike aard wat ‘n persoon maklik kan onthou en kies om vir identifikasie te gebruik, asook om identifikasie te verifieer wanneer toegang tot rekenings verkry word.  Die volgorde van hierdie feite en inligting is slegs aan die kliënt bekend.

7.21 Onbetaalde tjek:

Dit is ‘n tjek wat, nadat dit gedeponeer is in die rekening van die persoon aan wie dit betaalbaar is, om enige rede hoegenaamd onbetaald is en deur die bank aan die rekeninghouer teruggestuur word.  Dit beteken die persoon aan wie die tjek betaalbaar is, land op sonder die geld in hul rekening.  ‘n Vervangingstjek moet deur die eienaar van die rekening (die ‘nemer’) verkry word.

:: terug na inhoud ::